Wie is Ons? PDF Afdruk E-pos

Rietvlei Akademie is 'n private Afrikaanse Christelike skool in Pretoria-Oos wat fokus op kinders met aandagafleibaarheid (ADD) en/of hiperaktiwiteitsindroom (ADHD).  Rietvlei Akademie het op 3 Mei 2005 sy deure oopgemaak en met slegs 2 leerders begin.  'n Lang, maar baie opwindende pad het gevolg en vandag, 8 jaar later, staan die skool 100 leerders en 15 personeel sterk!

Die hoofstroom kurrikulum word gevolg met die leerders, maar die werk word meer vereenvoudig en "kinder-vriendelik" gemaak.  Ons maak baie van breinkaarte en diktate gebruik, sodat die kinders nie soveel ure hoef te spandeer aan opsommings en afskryf van werk nie.  Min take word gegee en die huiswerk word ook drasties verminder sodat ons kinders se moed nie gebreek word nie. Daar is nooit meer as 12 leerders in 'n klas nie en al ons personeel is gekwalifiseerde onderwyseresse, met 'n werklike passie vir hierdie lewenslustige kinders.

Rietvlei Akademie is op 'n plot van 1.2 hektaar geleë, wat sodoende heerlike speel en hardloopplek vir ons kinders bied.  'n Rustige plaasatmosfeer heers by die skool en ons glo hier dat vuil en moeë kinders gelukkige kinders is. 'n Leessentrum op die perseel met 'n kundige op die gebied, maak 'n nuwe leeswêreld vir ons kinders oop.  Visuele terapie en berading word ook, op 'n addisionele grondslag, aangebied.

Kuns word aangebied deur 'n kundige met 'n hart wat warm klop vir ons kreatiewe outjies en dit vorm deel van ons leerlinge se sillabus.  Die aller-mooiste kunswerke sien week na week die lig by Rietvlei Akademie. Liggaamsopvoeding (die ou LO) vorm ook deel van die leerders se skoolprogram en leerders kry die geleentheid om te leer swem en ook om verskeie fisiese vaardighede aan te leer. Elke Maandag gedurende pouse, word daar CSV aangebied vir die leerders wat belangstel.  Ons poog daarin om ons leerders se geestelike magies vol te hou!

Rietvlei Akademie begin om 08:00 en sluit onderskeidelik 13:00 en 13:30 vir junior- en seniorleerders.  Die skool sluit gewone skoolvakansies, met die uitsondering van die Oktober reses wat altyd die dag voor die vakansiedag (24 September) in aanvang neem.  'n Naskoolsentrum is op die terrein beskikbaar.

Hier klop ons harte warm vir die kind wat nie in die lewe se "boksie" pas nie.  Sprei jou vlerke, en vlieg hoog!